Search

Hoe vaar jou kind met skoolwerk in hierdie grendeltyd?

Updated: May 8

Hierdie is 'n uitdagende tyd vir almal van ons. Sommige geniet dit by die huis met hulle kinders en oorweeg selfs om aan te hou tuisskool. Ander geniet dit ook soms  maar vind dit uitdagend om tussen al die huistake, skooltake en werkstake nog iewers 'n koppie koffie in te werk. Sommige van ons het gedink jy geniet dit maar nou begin jy wonder.... Ander is al lankal tuisskool mammas.

Miskien is daar spesifieke aspekte van jou kind se skoolwerk wat jou bekommer of waaroor jy wonder. Die voordeel van die grendelstaat is dat jou kind nou individuele aandag kry, 'n luukse wat ons nie altyd in die skool ervaar nie. Die nadeel is dat ouers nie altyd goeie onderwysers vir hulle eie kinders is nie. En ook dat daar duisende ander dinge tussenin moet gebeur. En mammas weet nie altyd waarna om uit te kyk, wat om te doen en waar 'n kind moet trek met sy werk nie. 

Hieronder is so paar belangrike aspekte van jou kind se ontwikkeling wat sy skoolwerk kan beinvloed:


1. Volgehoue aandag:

'n Kind moet vir 'n tydperk (bepaal deur ouderdom) gefokusde aandag kan skenk om soveel moontlik inligting te ontvang. Hierdie aandag moet sinvol en effektief aangewend word om te verseker dat jou kind nie iets "mis" in die klas nie. Baie kinders sukkel hiermee alhoewel dit nie altyd sigbaar is vir ouers of onderwysers nie. Dit is moeilik om te bepaal of 'n kind deurentyd gefokus bly. Dit gebeur dan dat dat hy sekere werk nie ken nie en jy kan nie verstaan waarom  nie. Kinders wat sukkel met volgehoue aandag "verloor" baie van die inligting, opdragte en werk in 'n klas. Hulle raak dan al meer agter met hulle werk. 'n Voorbeeld hiervan is wanneer jou man by die huis kom en jy vir hom in kleur en geur vertel hoe jou dag was. Wanneer jy 'n ruk later verwys na iets uit daardie gesprek, kom jy agter dat hy dit nie weet nie. Gedurende die gesprek het dit wel gelyk of hy luister. Dit gebeur dikwels ook met kinders in die klas.

2. Prosessering:

Kinders moet die inligting wat hulle hoor en sien kan verwerk (prosesseer) in hulle breine en dan die taak uitvoer. Hoe vinniger hierdie verwerking plaasvind, hoe meer effektief kan jou kind sy werk doen. Hulle moet ook die vorige inligting wat hulle geleer en gememoriseer het, en wat in hulle langtermyn geheue gebêre is, herroep, verwerk saam met die opdrag en uitvoer. 'n Voorbeeld hiervan is wanneer juffrou jou vra om die woord "kat" te skryf in 'n speltoets. Jy moet dan eers die opdrag effektief hoor, onthou hoe lyk die woord, onthou hoe lyk 'n "k", 'n "a" en 'n "t", dit moet dan bymekaar gesit word om die woord te vorm. Dan moet jy ook nog onthou watter kant toe elke letter kyk. Daarna moet jy dit neerskryf op jou papier en na die woord kyk om dit vinnig te evalueer en te sien of dit reg gespel is. Al hierdie dinge moet baie vinnig gebeur en as jy stadig prosesseer, verstadig die hele proses. Stadige prosesseerders raak maklik agter in die klas, mis belangrike inligting en voltooi selde hulle take. Juffrou gee lankal 'n volgende opdrag en dan haak hulle nog vas by die eerste woord.

3. Impulsiwiteit:

Dit gebeur dikwels dat kinders onnodige foute maak omdat hulle impulsief optree. Hulle antwoord sommer 'n vraag nog voordat hulle daaroor gedink het en dan is die antwoord verkeerd. Impulsiewe kinders is ook geneig om die antwoord uit te skree. Of hulle maak net glad nie hulle werk heeltemal klaar nie. Impulsiwiteit veroorsaak dikwels dat kinders wat eintlik veronderstel is om goed te doen, net nie so goed doen as wat hulle kan nie. Hulle ken die werk so goed en dan verloor hulle punte in die vraestel omdat hulle onnodige foute maak. Kinders wat impulsief optree, sal ook doen sonder om te dink. Dit kan soms oorsit in gedragsprobleme waar hulle maatjies seermaak.

4. Ouditiewe en visuele afleidings:

Ons het baie insette vanuit ons omgewing wat ons aandag en konsentrasie beinvloed. Sommige kinders kan net nie konsentreer en fokus wanneer daar geluide rondom hulle is nie of wanneer daar te veel visuele insette is nie. Wanneer jou kind in die klas sit, hoor en sien sy baie dinge wat haar aandag kan aftrek. Ons wil hê dat kinders 'n normale bewustheid van visuele en ouditiewe afleidings moet hê. Terwyl ek hier sit en tik, hoor ek my kinders buite speel, ek hoor die spuitjies wat buite die tuin natspuit, ek hoor die motor wat verby ry en my man wat met iemand oor die foon praat in sy studeerkamer, die hond blaf en die ketel kook. Maar, dit trek nie my aandag van my werk af nie. Ek kan steeds tik, konsentreer en fokus sonder om foute te maak. Baie kinders (en volwassenes) kan dit nie doen nie. Dan veroorsaak hierdie afleidings dat hulle stadig prosesseer, impulsief optree of nie deurentyd fokus en aandag skenk nie.


Net so kry ons ook die kinders wat hiperfokus. Hulle kan weer so goed die klanke en visuele stimulasie uitskakel dat hulle op niks anders as hulle gedagtes of die taak waarmee hulle besig is fokus nie. Dit is byvoorbeeld wanneer jou seuntjie so lekker Lego speel dat jy tot langs hom kom en hom roep en hy jou regtig nie hoor nie. Ongelukkig gebeur dit ook in die klas. Dit is ons dromertjies. Hulle is doodsoet en lyk of hulle aandag skenk maar eintlik is hulle op die strand of by oupa op die plaas of op 'n ander planeet. En so droom-droom gaan hulle deur die lewe. Hulle verloor ook sodoende belangrike inligting wat juffrou weergee in die klas. Of hulle droom so baie dat hulle nooit eers die werk gedoen kry nie.

As enige van hierdie aspekte dalk vir jou bekend klink, sal dit sinvol wees om jou kind 'n FOCUS-toets te laat doen. Met 'n FOCUS-toets word al die bovermelde aspekte geasesseer. Dit gee mens 'n baie goeie beeld van jou kind se vermoëns en uitdagings in die klas.

Ons sentrum is oop vir individuele toetsings en sessies of jy kan 'n FOCUS-toets nou, tydens hierdie COVID-tyd in jou eie huis doen. Jy het 'n rekenaar en oorfone hiervoor nodig en ons sal jou deur die hele proses neem. Die terugvoersessie word oor die internet gedoen.

Ons het nou 'n COVID aanbieding waar jy slegs R230 vir jou FOCUS toets betaal in plaas van R450

Stuur gerus 'n e-pos aan moot@bio-link.co.za vir meer inligting


Mooi bly en sterkte

Karyna



Click the link below to learn more about the FOCUS Assessment

https://biolinkattention-bloemfontein.co.za/focus-assessme…/

If you are in other areas in South Africa, you can contact your area agent with information. You can find your nearest agent here:

http://bio-link.co.za/biolink-centers

47 views

Kontak ons

Kantoor
064 680 0809

Wil jy meer van ons hoor?

  • Facebook
  • YouTube
  • Instagram

© 2020 Karynakinetika