Search
  • infokkinetika

Swaai, sintuie en Sensoriese Integrasie

Sensoriese Integrasie is die wonderlike vermoë van die brein om inligting uit die omgewing in te neem deur middel van die sintuie, dit te verwerk, te organiseer en daarop te reageer. Dit klink baie tegnies, maar dit is hoe ons sin maak van die wêreld om ons. Dit is wanneer iemand (volwassene of kind) sien wat om hul aangaan, besef wat gebeur, besluit wat om te doen en dan reageer. Hierdie kan in 'n splitsekonde gebeur, gewoonlik sonder dat jy dit besef. As jy daaraan dink is dit werklik wonderlik. Dit is nie iets wat ons aanleer nie, alhoewel dit geoefen en verbeter kan word. Dit is ingebore in die kleinste lyfie.


Dink byvoorbeeld maar aan jou kleuter wat blokkies speel. Hy sien die blokkies, vat daaraan, druk dit selfs dalk in sy mond en besef dis nie kos nie. Steeds proe en voel hy die tekstuur, sien die kleur en ruik die hout. Hy kap dit teen mekaar en hoor dit maak geluide wat raserig vir Mamma is. Daarom kap hy weer. Dan bekyk hy die blokkie, draai dit om en om, gooi dit om te kyk wat gebeur. Nee, dit gaan nie hop of rol nie. Volgende plan: miskien kan dit bo-op mekaar gepak word. Ja, dit werk! Siedaar, daar het jou kleuter al sy sintuie ingespan en ontwikkel terwyl hy speel.


Hoe kan jy met jou kind speel dat hulle Sensoriese Integrasie oefen? Begin by hul sintuie:

: Beweeg voorwerpe voor jou kind sodat hul dit met slegs hul oë volg. Beweeg verder en nader aan neus.


Ore: Speel klanke of maak diere na wat hulle moet identifiseer. Luister saam na geluide in die huis of tuin.


Neus: Laat jou kind verskillende reuke ruik en sê wat hul ruik. Laat hulle hul ogies toe maak en sê wat hulle ruik.


Tas: Gooi verskillende teksture in 'n sak, voel en sê wat voel jy en hoe voel dit. Beskryf verskille teksture, besluit wat voel lekker en wat nie.


Smaak: Proe verskillende kosse, smake en teksture. Praat oor smaak, waarvan hulle hou, wat lekker is of dalk nie so lekker is nie.


Vestibulêre sisteem: Draai, swaai en rol, spring saam met jou kind op en af. Swaai jou kind, rol hulle in die komberse toe of speel sommer net rondomtalie.


Proprioseptiewe sisteem: Hang, klim, stoot, trek en dra swaar goed. Plankiestaan is 'n goeie oefening om die proprioseptiewe sisteem te versterk.




My kinders hou van swaai. By ons huis is daar 'n paar verskillende tipes swaaie wat altyd beskikbaar is vir 'n kind om mee te swaai. Nie net is dit goed vir hulle ontwikkeling nie, dit hou hulle ook baie sinvol besig.


Ons het 'n gewone buitebandswaai, 'n plastiese swaai wat so toevou om jou boude, 'n hangmatswaai, 'n touleerswaai en dan ook 'n swaai waaraan hulle met hulle arms kan hang en swaai. Dit is altyd vir my so wonderlik om te sien hoe hulle aanvanklik sukkel en dan later vol selfvertroue leer om hulle lyfies vorentoe en agtertoe te gooi om hulleself te "maak" op die swaai. Praat julle ook van "ek maak myself op die swaai"?


Omdat jou vestibulêre sisteem betrek word by swaai-aktiwiteite het dit 'n kalmerende effek op kinders wanneer hulle vorentoe en agtertoe beweeg word. 'n Swaai is dus ook 'n lekker aan-die-slaap-maak aktiwiteit. Maar net so effektief vir kinders wat sukkel om "af te skakel" of hiperaktief is.


Neem vandag die geleentheid en speel met jou kind. Rol hulle soos 'n pannekoek in 'n kombers en swaai hulle rond. Draai en swaai hulle in die kombers. Draai rondomtalie en val neer op die gras. Swaai tot dit voel asof julle vlieg. Laat jou kind gerus toe om soveel moontlik te swaai. En wanneer hulle iewers anders op die erf speel of wanneer hulle slaap, steel gerus ook sommer so vinnige swaatjie net om weer die wind deur jou hare te voel. Jy sal verbaas wees hoe kalm en vol moed jy sal voel na 'n lekker swaai-sessie!

0 views

Kontak ons

Kantoor
064 680 0809

Wil jy meer van ons hoor?

  • Facebook
  • YouTube
  • Instagram

© 2020 Karynakinetika